April 2026 Uitgawe 2

Die geïntegreerde misdaad- en geweldvoorkomingstrategie (ICVPS)

1. Wat is die ICVPS?

Die ICVPS is die regering se plan vir die bevordering van ʼn geïntegreerde voorkomende benadering om die hoofoorsake van misdaad en geweld aan te spreek. Dit erken dat veiligheid nie net die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens alleen is nie, maar neem ʼn oorkoepelende benadering wat die hele regering en hele samelewing behels.

Die ICVPS rus op ses pilare, naamlik:

Pilaar 1: Doeltreffende strafregstelsel – Dit gaan oor die doelmatigheid, reaksiebereidheid en professionalisme van die strafregsektor om mense se behoeftes en probleme oor kwessies in misdaad en veiligheid aan te spreek.

Pilaar 2:  Vroeë ingryping om misdaad en geweld te voorkom en veiligheid te bevorder – Dit spreek die kwessies van veiligheid en voorkoming van misdaad en geweld op ʼn vroeë ouderdom aan en verseker dat daar aan kinders ʼn gesonde begin gegee word van hul eerste 1 000 dae van lewe. Kinders word ook tydens vroeë kinderontwikkeling beskerm en goed geleer. Hulle moet veilig wees én voel in skole, gemeenskappe, op speelterreine en oral waar hulle gaan.

Pilaar 3:  Slagofferondersteuning – Dit gaan oor hoe elke rolspeler in staat moet wees om voorspraak te maak vir die slagoffers, aan hul die ondersteuning en sorg wat hul verdien te gee en om enige hindernisse wat hul in die gesig mag staar, aan te spreek. Die implementering van die slagofferhandves is deurslaggewend.

Pilaar 4:  Doeltreffende en geïntegreerde dienslewering vir veiligheid en voorkoming van geweld – Ons moet al die mense met tersaaklike dienste en hulpbronne verbind sodat gemeenskappe die hulp kan ontvang wat hul nodig het om veilig te wees. Dit gaan ook oor basiese dienslewering en bring programme en dienste tot stand wat kwessies van armoede, werkloosheid en ongelykheid aanspreek en sosio-ekonomiese ontwikkeling bevorder. Daar moet behoorlike koördinasie en samewerking deur alle belanghebbendes wees.

Pilaar 5:  Veiligheid deur omgewingsontwerp – Die behoorlike ontwerp van ons leefruimtes help om veiligheid te bevorder en misdaad en geweld in ons samelewing te voorkom. Stedelike en landelike beplanning moet die veiligheid van die mense in ag neem deur byvoorbeeld seker te maak dat straatligte goed werk om gebiede te belig sodat mense veilig voel, seker te maak dat bosse en lang gras in gebiede gesny word om te voorkom dat misdaad plaasvind, en die skep van sport- en ontspanningsfasiliteite en gemeenskapsvergaderings. Dit sal die gevoel van veiligheid onder gemeenskappe verhoog en ʼn veilige en bevorderlike omgewing skep.

Pilaar 6:  Aktiewe openbare- en gemeenskapsdeelname – Wanneer ons gemeenskappe die middelpunt maak vir die ontwikkeling van programme vir die voorkoming van misdaad en geweld, bemagtig ons ons gemeenskappe en mense om eienaarskap te neem van hul eie veiligheid. Dít beteken ook dat hulle moet deel uitmaak van die beplanning vir veiligheid binne hul woongebiede, hul werksplekke, by skole, by winkelsentrums en enige ander ruimtes. Die vestiging van gemeenskapstrukture gee aan gemeenskapsverteenwoordigers ʼn stem oor alle veiligheidsbeplanning en voorkomingsmaatreëls in hul eie gemeenskappe.

2. Wat is my rol as gemeenskapslid in die ICVPS?

As ʼn lid van die gemeenskap moet jy verantwoordelikheid neem vir jou veiligheid en vir die veiligheid binne die area waarin jy woon. Jy moet altyd op jou hoede wees, enige verdagte aktiwiteite binne jou gemeenskap rapporteer, jou bure en jou mede-gemeenskapslede ken, en die regeringsdienste aan jou beskikbaar is en die rol wat jy moet speel om toegang tot daardie dienste te verkry, ken. Wees ʼn voorstander van die kwesbare en weerlose mense in jou gemeenskap. Moenie stilbly wanneer jy ongeregtighede, mishandeling, gesinsgeweld of kriminele aktiwiteite waarneem nie, rapporteer dit alles aan die betrokke owerheid. 

Jy moet aan gemeenskapsaktiwiteite deelneem en inligting deel wat sal help om situasies en kwessies te voorkom voordat dit eskaleer. Byvoorbeeld, as sekere gevaarpunte vir kriminele aktiwiteite in jou gemeenskap bekend is óf wanneer gemeenskapslede deur bendes geterroriseer word, moet jy asseblief hierdie aktiwiteite by die betrokke kantore, polisiestasies en gemeenskapsleiers aanmeld sodat daardie kwessies aangespreek kan word.

3. Wat is die implementeringsplan van die ICVPS?

Die ICVPS is die implementeringsplan. Dit bestaan uit tabelle wat die rolle en verantwoordelikhede van elke belanghebbende wat aanspreeklik is vir die implementering daarvan, uiteensit. Dit vereis geïntegreerde beplanning en begroting en kapasiteitsbou wat in alle regeringsfere moet plaasvind. Alle rolspelers in die regering en samelewing moet byeenkom om hierdie beplanning te doen. Dit het ook duidelike prestasie-aanwysers vir implementering nodig en dit moet monitering- en evalueringsaanwysers hê om verbeterings in misdaadvlakke te meet.

4. Hoe gaan die burgerlike sekretariaat vir die polisiediens die doeltreffende implementering van die ICVPS verseker?

Ons sal dit doen deur die impak van die ICVPS te meet; dit wil sê, die afname in misdaadvlakke, toename in indiensneming en ontwikkeling in plaaslike gebiede. Ons versoek die departement van beplanning, monitering en evaluasie om hoëvlak-aanwysers in die mediumtermyn strategiese raamwerk (MTSR) in te sluit om die implementering van die ICVPS te verseker en om te verseker dat elke departement verantwoordingspligtig gehou word. Ander moniterings- en evalueringsinstrumente deur die provinsiale departemente van gemeenskapsveiligheid sal help om te kontroleer of alle rolspelers doen wat hulle veronderstel is om te doen, en dit doeltreffend doen. Ons het ʼn werkskomitee op nasionale vlak gestig om alle beplanning en verslagdoening oor suksesse en uitdagings te koördineer met planne om daardie uitdagings te verlig.

5. Hoe sal die burgerlike sekretariaat vir die polisiediens verseker dat die “hele regering en die hele samelewing” aan die ICVPS deelneem?

Ons sal die distriksontwikkelingsmodel (DDM) gebruik as ʼn sleutelplatform vir doeltreffende implementering van die ICVPS en vir koördinasie oor die drie regeringsfere. Provinsies en plaaslike regering sal verseker dat die ICVPS in ooreenstemming met die DDM is. Daar word ook van die kantore van die premiers verwag om ʼn deurslaggewende rol te speel in die koördinering en fasilitering van die implementering van die ICVPS. Die suksesvolle implementering van die ICVPS maak grootliks staat op elke enkele lid van die samelewing en die regering severbintenis daartoe om saam te werk ten einde veiliger gemeenskappe vir almal te verwesenlik. 

 

General
Share this page