Terwyl ons
voorberei vir Vryheidsdag op 27 April, besin ons oor ons reis om demokrasie te verdiep en menseregte vir almal te bevorder.
Dertig jaar nadat ons ons nuwe Grondwet aanvaar het, bly die Suid-Afrikaanse samelewing gegrond in ʼn kultuur van menseregte, die oppergesag van die reg en die uitdrukking van die nasie se wil deur gereelde verkiesings.
Wat ons in hierdie land opgebou het en steeds bou, is uitsonderlik. Dit plaas ʼn verantwoordelikheid op Suid-Afrika as ʼn aktiewe lid van die internasionale gemeenskap om ons grondwetlike waardes buite ons grense te bevorder.
Dit is hoekom ek trots was om ʼn demokratiese Suid-Afrika te verteenwoordig by die 4e vergadering van die “In Defence of Democracy”-inisiatief in Barcelona, Spanje oor die afgelope naweek.
Die inisiatief is in 2024 deur Brasilië en Spanje van stapel gestuur om die bedreiging wat ekstremisme, polarisasie, waninligting en ander vorme van onverdraagsaamheid vir demokratiese instellings inhou, die hoof te bied. Hierdie inisiatief, wat lande van regoor die wêreld byeenbring, het in ons hedendaagse tyd veral kritiek geword.
In baie plekke is demokrasie onder bedreiging. Die beginsels van solidariteit, samewerking en vriend-skap word uitgedaag deur die herlewing van noue nasionalisme, vooroordeel en onverdraagsaamheid.
Konflikte en oorloë woed regoor die wêreld. Sommige hiervan hou verband met gevegte oor hulpbronne, terwyl ander hul oorsprong het in koloniale era verdeeldheid wat deur gewelddadige verowering gevorm is.
By die byeenkoms in Barcelona het ek gesê dat ons nie toelaat dat ons tot stilte geboelie word wanneer die waardigheid en menseregte van ander vertrap word nie.
Ons het ʼn beroep gedoen dat die Verenigde Nasies hulself weer in wêreldsake moet vestig. Vir demokratiese waardes om te floreer, moet alle instellings van globale bestuur hervorm word sodat al die lande en volke van die wêreld verteenwoordig word. Dit het duidelik geword dat liggame soos die VN-veiligheidsraad magteloos is om in konflikte in te gryp en volksmoord te voorkom.
Die kloof van ongelykheid binne en tussen nasies is ʼn ernstige uitdaging vir demokrasie. Die wette, reëls en instellings wat demokrasie ondersteun, moet verseker dat mense se lewens verbeter word. Alle mense moet ʼn gelyke geleentheid hê om by te dra tot besluite wat hulle raak.
Daarom het ons leiers versoek om die stigting van ʼn internasionale paneel oor ongelykheid te ondersteun, wat alternatiewe beleide sal evalueer om ongelykheid aan te spreek om regerings, beleidmakers en die internasionale gemeenskap in te lig.
Die stigting van die paneel was een van die aanbevelings van die baanbrekende wêreldwye ongelykheidsverslag opgestel deur ʼn komitee van onafhanklike kundiges, op versoek van Suid-Afrika tydens die land se G20-presidentskap.
Die inisiatief “In Defence of Democracy” is in lyn met ons buitelandse beleid en ons is daartoe verbind om sy werk te ondersteun.
Die erosie van demokrasie in ander dele van die wêreld raak Suid-Afrika ook. Ons ekonomie en samelewing voel die gevolge van konflikte buite ons landsgrense verhoogde geopolitieke spanning en die bewapening van handel, direkte buitelandse beleggings en hulp.
Die erosie van demokrasie het bygedra tot wantroue teenoor die waardes van gelykheid, menseregte en vryhede wat progressiewe samelewings kenmerk. Hierdie wantroue is selfs in ons eie land opsigtelik.
Terwyl ons volgende week Vryheidsdag vier, laat ons onsself weereens daartoe verbind om ons demokrasie te verdedig en te versterk.
Ons moet aanhou saamwerk om die uitdagings van armoede, ongelykheid en onderontwikkeling te oorkom, wat ons demokratiese winste ondermyn. Ons mag nie die pad volg van samelewings wat geloof in demokrasie verloor het en wat toenemend geanker is in die heerskappy van die sterkes en die erosie van menseregte nie.
Ons ervaring met die bou van ʼn verenigde nasie uit ʼn diep gefragmenteerde verlede beteken dat ons ons demokrasie moet koester en deel moet wees van die stryd om demokratiese waardes regoor die wêreld te verdedig.
Die verdediging van demokrasie bou momentum. Dit kry al hoe meer steun namate leiers, regerings, sosiale bewegings en burgers besef wat op die spel is – en, soos ons, wys dat hulle bereid is om iets daaraan te doen.