Vonnie Baloyi
se reis na skoon tegnologie-innovasie het nie in ʼn laboratorium of lesingsaal begin nie, maar met ʼn droom.
Baloyi is die stigter van Vonnie Projects, ʼn vroue-geleide onderneming gebaseer in Bloempoort naby Groblersdal, Limpopo, wat voedselafval omskakel in bekostigbare veevoer en bio-brikette gemaak van veemis.
Sy onthou die presiese oomblik toe die idee eerste vorm aangeneem het. “In 2023 was ek ’n soetpatatboer toe ek een nag gedroom het dat ek grondbone oes,” het sy gesê. “Onmiddellik het ek besluit om grondbone in die volgende seisoen te kweek. Maar toe ek na die opbrengste kyk, het ek besef ek gaan geen wins maak deur net grondbone te verkoop nie. Dit is toe dat ek die geleentheid in agro-afval gesien het.”
Selfgeleerd
Haar wortels het bepaal wat gevolg het. Sy het in Bloempoort grootgeword en moes lang afstande stap om vuurmaakhout te versamel net om te kook. Daardie ervaring het haar nooit verlaat nie. “Ek is beïnvloed om in hierdie besigheid in te gaan deur my lewenservarings.”
Baloyi is ʼn selfgeleerde motorwerktuigkundige en boer. Sy het haar innovasie op praktiese kennis gebou, nie deur formele weten-skaplike opleiding nie. “Ek het ʼn meganiese agtergrond en boerdery-ervaring. Ek moes myself een vraag vra: hoe kan landbouafval ʼn oplossing wees eerder as ʼn probleem? Boere sukkel met die hoë koste van veevoer en huishoudings worstel met hoë energiekoste. Dit was hoe ek met hierdie twee idees vorendag gekom het.”
Haar produkte spreek albei uitdagings gelyktydig aan. Die veevoer verminder insetkoste vir boere. Die bio-brikette bied aan huishoudings ʼn goedkoper, skoner energiebron. Albei word vervaardig deur ʼn gemeenskapsgerigte model wat ook inkomste skep. “Ons het ʼn gemeenskaps-terugkoopmodel waar boere en huishoudings hul afval aan Vonnie Projects verkoop, wat op hul beurt die twee produkte vervaardig. Ons skep inkomstestrome vir gemeenskappe terwyl ons ook afval verminder,” verduidelik sy.
Besigheidstoekenning
Die uitslae het nie ongesiens verbygegaan nie. As die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse deel van die Global Cleantech Innovation Programme, het sy R200 000 ontvang om haar innovasie te skaal en die bereik daarvan uit te brei.
Die program, wat deur ʼn vennootskap met die tegnologie-innovasieagentskap (TIA) en die Verenigde Nasies se Organisasie vir Nywerheidsontwikkeling aangebied word, ondersteun klein, medium en mikro-ondernemings wat klimaats- en omgewings-uitdagings aanspreek.
Baloyi het die toekenning ontvang tydens Suid-Afrikaanse Innovasieweek, georganiseer deur die departement van wetenskap, tegnologie en innovasie en die TIA.